Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS - SONDAG 26 SEPTEMBER 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word, en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

ARRL-TOEKENNINGSKOMITEE BESLUIT OOR ONTBINDING VAN DIE NEDERLANDSE ANTILLE

SARL LEDETAL GROEI ..MAAR U KAN DIT VERSNEL

MOENIE VERGEET OM JOU HANDSTEL WERK TOE TE NEEM NIE

DIE VSA ONDERSTEUN TOEDELING RONDOM 500 kHz

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

ARRL-TOEKENNINGSKOMITEE BESLUIT OOR ONTBINDING VAN DIE NEDERLANDSE ANTILLE

Ten einde die administratiewe proses op te klaar waarvolgens die verwagte veranderinge aan die twee Nederlandse Antilles gemaak sal word, het die ARRL se Toekenningskomitee besluit dat die Nederlandse Antilles se twee bestaande DX-entiteite om 04:00 UTC (12:00 plaaslike tyd op die eilande) op 10 Oktober 2010 geskrap word.

Met ingang van 10 Oktober 2010 om 04:00 UTC (12:00 plaaslike tyd) geld die eilande Curacao, Bonaire, Sint Maarten, Saba en Sint Eustatius as ʼn aantal nuwe entiteite, wat nog bepaal moet word onder die DXCC-lys van Kriteria en Politieke Entiteite. Wanneer die Toekenningskomitee besluit het of Reël 1 of Reël 2 oor Geografies Aparte Entiteite van toepassing is, sal dit ʼn aankondiging maak oor die finale beskikking van dié entiteite op die DXCC-lys.

Die DXCC-kantoor sal geen bevestigings aanvaar vir die twee voormalige entiteite tot na 1 Januarie 2011 nie.

SARL LEDETAL GROEI ..MAAR U KAN DIT VERSNEL

Verlede week het die SARL se ledetal gegroei tot 1 321, maar dit is nog 21% onder die mikpunt van 1 600 vir die 2010/2011 finansiële jaar. Indien u nognie hernu het nie, doen dit asb. binne die eerskomende dae voordat onopbetaalde lede van die databasis van lede verwyder word. Om van die databasis verwyder te word beteken dat u nie die September/Oktober uitgawe van Radio ZS en latere uitgawes sal ontvang nie en die gebruik van die QSL-buro en ander lidmaatskapvoordele, soos afslag op kursusse en boustelle, sal verbeur. Behalwe al die voordele van lidmaatskap, is daar die belangriker saak van versekering dat amateurradio ’n sterk inspraak het waar dit saak maak. U lidmaatskap versterk ook die posisie van die IARU in internasionale forums.

MOET NIE VERGEET OM U HANDSTEL WERK TOE TE NEEM NIE

Vrydag 1 Oktober is neem-u-handstel-werk-toe-dag. Wys u kollegas waaroor amateurradio gaan, laat hulle dit eerstehands beleef. As u afgetree is of van die huis werk, wees aktief op die plaaslike herhalers en deel in jou ondervindings. Laat hierdie ʼn Vrydag propvol pret wees.

VSA ONDERSTEUN DIE TOEDELING RONDOM 500 kHz.

Die spektrumreguleerders van die VSA-privaatsektor- en regeringsgebruikers het ingestem om ʼn sekondêre MF-toedeling aan die amateurradiodiens tussen 461-469 kHz en 471-478 kHz te ondersteun by die 2012-wêreldradiokommunikasiekonferensie (WRC-12). Die konferensie vind vanaf 23 Januarie tot 17 Februarie 2012 in Genève, Switserland, plaas. Amptenare van die federale kommunikasiekommissie en die nasionale telekommunikasie- en inligtingsadministrasie het die voorstel formeel voorgelê by ʼn vergadering van die tweede permanente raadplegende komitee (PCC-II) van die Interamerikaanse Telekommunikasiekommissie (CITEL) wat gehou is van 30 Augustus tot 3 September in Forteleza, Brasilië.

Volgens die ARRL Hoof Tegniese Beampte, Brennan Price, N4QX, versoen die voorstel twee wyd uiteenlopende voorstelle vir WRC-12 se Agenda item 1.23 wat aanvaar is deur konsensus tussen die privaatsektor en staatsgebruikers. Agenda item 1.23 vra die WRC-12 “ om ʼn toedeling van 15 kHz in dele van die band 415 tot 526.5 kHz band aan die Amateurradiodiens, op ʼn sekondêre basis te oorweeg met die voorbehoud dat die belange van huidige gebruikers te beskerm word ”. Die FCC se WRC-12 advieskomitee het ʼn voorstel aanvaar vir die sekondêre toekenning van 495-510 kHz, maar die NTIA wat met advies van die regerings maritieme belange, geen verandering van die huidige stand ondersteun het.

“Ek is bly dat die Verenigde State ʼn positiewe posisie inneem oor Agenda item 1.23,” het Price gesê“ terwyl die voorgestelde frekwensiebande albei verskil van wat ARRL voorgestel het, en wat die privaatsektor ondersteun het, is konsensus gedurende WAC beraadslagings bereik, is dit bemoedigend dat regeringsbelange van die geen-verandering houding afgesien het.

Sekere maritieme belange, plaaslik sowel as internasionaal, het teenkanting teen enige amateurtoekenning in die 415-526,5 kHz sektor getoon, deur die direkte druktoepassings by 490 en 518 kHz asook die toekomstige planne vir die hele band wat nog nie ten volle gekaraktiseer is nie, het Price verduidelik. In so verre die toekomstige gebruik deur die maritieme bespreek is, was die fokus op die 495-505 kHz segment gewees. Die gebrek aan planne vir die res van die reeks ten spyt, het die Internasionale Maritieme Organisasie (IMO) ʼn konsepposisie van geen verandering“ aanvaar en het hierdie posisie aan die ITU meegedeel. In ʼn poging om hierdie posisie te verlig het IARU President Tim Ellam, VE6SH, met IMO-beamptes vergader.

“Die pad na ʼn gunstige uitkoms vir Agenda item 1.23 by die WRC-12 bly maar moeilik“, het Price gesê. “Die IMO is ʼn gerespekteerde organisasie en hul opinie is belangrik. Dis ons plig om voort te gaan en aan beide die IMO as die ITU-ledestate, wie die besluite by WRC-12 sal neem, te wys dat ʼn sekondêre toewysing gemaak kan word terwyl ander dienste beskerm word“.

Die SARL sal met die Suid-Afrikaanse maritieme owerheid en ander rolspelers in die volgende weke vergader om Suid-Afrika se standpunt te stel ter ondersteuning van ʼn amateurtoekenning en dit na die SAOG en die Afrika-telekommunikasie-unie te neem.


SA AMATEURRADIO ONTWIKKELINGSTRUST VERSKUIF SLUITINGSDATUM VIR INSKRYWINGS IN INNOVASIE-INISIATIEF

Volgende op versoeke vir die verskuiwing van die sluitingsdatum vir die indiening van voorstelle vir die innovasiekompetisie, het die Raad besluit om die sluitingsdatum te verskuif na 15 Januarie 2011.

Ten einde meer inligting te bekom, besoek www.amateurradio.org.za.

KOMPETISIENUUS

Antieke Draadloosvereniging hou AM/ESB-lampie-QSO-jol. Dit is ʼn foonkompetisie wat in twee sessies gehou gaan word op Saterdag 9 en Sondag 10 Oktober 2010. Die AM-sessie vind Saterdagmiddag 9 Oktober vanaf 15:00 tot 19:00 SAT plaas, met kontakte vir punte op die 40 m- en 80 m-bande.

Op Sondag 10 Oktober vanaf 15:00 tot 19:00 SAT vind die ESB-seksie plaas, met kontakte op die 40 m- en 80 m-bande vir punte.

Die frekwensies is soos volg: 40 meter: 7,053 tot 7,100 MHz en 80 meter: 3,603 tot 3,650 MHz.

Die ruil is ’n roepsein, RS en opeenvolgende reeksnommer vanaf 001, plus tipe radio gebruik, bv. HT37 Tx.

Puntetellings: Alle lampiestelle tel 3 punte per kontak; hibriede, d.w.s. lampie en vaste staat, tel 2 punte en vastestaatradio tel 1 punt per kontak.
In die vermenigvuldiger tel alle lampiestelle 3 punte per kontak, hibriede (lampie en vaste staat) 2 punte per kontak en soliedestaatradio 1 punt per kontak.

Alle logstate moet gestuur word aan die Antieke Radiovereniging, Posbus 12320, Benoryn, 1504, of per e-pos aan andy.cairns@xsinet.co.za.
Sluitingsdatum vir indiening van logstate is 25 Oktober 2010.
Raadpleeg asseblief die SARL-kompetisiehandboek vir enige navrae.

KLUBNUUS

Die Oos-Randse Radioamateurklub hou ’n snuffelmark op 2 Oktober 2010 vanaf 08:00 tot 11:00. Die gebruik van ʼn tafel kos R20 en ’n kattebaksmous moet ook R20 opdok. Daar sal koeldranke, boereworsrolle en pannekoek wees. Om ’n tafel te bespreek, kontak Judy, ZR6POP, op 074 177 0395 of per e-pos aan zr6pop@vodamail.co.za. Vir enige ander inligting, kontak Francois, ZS6COI, op 079 932 7131 of per e-pos aan zs6coi@vodamail.co.za.

Die volgende ZS6PTA-megasnuffelmark van die Pretoriase Amateurradioklub word op Saterdag 9 Oktober 2010 vanaf 08:00 tot 11:00 by die Pretoria-motorklub in Silverton gehou. Dagboek ook asseblief 27 November 2010 vir die laaste ZS6PTA-vlooimark van hierdie jaar. Vir meer inligting of om ʼn tafel te bespreek, kontak Almero, ZS6LDP, op 083 938 8955.

Die Middellande-amateurradioklub het op 18 September jaarvergadering gehou en die nuut verkose komitee het sy eerste vergadering op 21 September gehou. Die volgende poste is toegedeel:

Voorsitter, HHN, Web, E-pos - Mike Lauterbach, ZS5ML
Visevoorsitter, Tegnies - Shaun Rudling, ZR5S
Sekretaris en tesourier - Ian Pearson, ZS5AZ
Geleenthede, Opleiding en Skakelbeampte - Shaun Fisher, ZR5SF
Rampbestuur - Des Mullen, ZU5DM

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Sonvlek 1 108 is relatief onaktief, maar gelukkig is Sonvlek 1 109 meer entoesiasties. Gedurende die week is interessante openinge opgemerk na Hawaii, vanaf Suid-Afrika die vêrste plek op aarde . Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 25 wees.

20 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 15 m. Smiddae en tot na sonsondergang gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 15 m en dan later op 20 m na Europa goed wees. Kontakte met Australië en Nieu-Seeland is met sonsopkoms op 20 m moontlik en ook op 40 m nadat die son gesak het. Kontakte met die VSA is uiteindelik weer vroegaande op 15 m moontlik. 15 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 m- en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. Vroegoggend en laatmiddag is 80 m die beste keuse, veral oor die korter afstande. Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

29 September - Die SARL se 80 m-digimodusse-klubkompetisie;
1 Oktober – Neem jou handstel werktoe;
2 Oktober - Die Wes-Randse ARK hou ʼn snuffelmark om 12:00 by die klubhuis. Kontak Phillip, ZS6PVT by 083 267 3835;
2 Oktober – Die Oos-Randse ARK hou sy snuffelmark vanaf 08:00. Vir nadere besonderhede kontak Judy, ZR6POP, op 074 177 0395.
9 Oktober – Die Pretoria-ARK se snuffelmark vind plaas by Pretoria-motorklub in Silverton vanaf 08:00. Kontak Almero, ZS6LDP, op 083 938 8955.
9–10 – Oktober – Antieke draadloosvereniging se AM./ESB-lampstel QSO-party;
15 Oktober - Sluitingsdatum vir die indiening van foto's van "Neem-u-handstel-werk-toe".

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program "Amateur Radio Mirror International" wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n "podcast"-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel is. Die bulletinredakteur was Hester van der Walt.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003